Testimonials
Ek verwys na die Rekenaarklasse wat my seun, Liam Boshoff, huidiglik by die Barberton Nursery School bywoon. Ek wil julle graag bedank vir julle deel aan sy ontwikkeling en kan ek bevestig dat die klasse absoluut tot sy voordeel was, en het hy sommer baie selfvertroue bekom. Woensdae was een van sy beste skooldae - altyd uitgesien na “Auntie Winnie’s computer lessons”! Baie dankie ook aan Winnie, julle kan trots wees op haar as juffrou!
Groete
Moira Boshoff
Ek skryf ʼn kort briefie om dankie te se vir alles wat julle doen vir Nicole met betrekking tot die rekenaars.
Groete
Almari Nel
Baie baie dankie vir Danie se pragtige verslag. Ek is bly om te sien dit gaan so goed met hom. Baie dankie vir alles wat julle vir hom en die ander kinders doen. Ek weet sommer dat elke ouer julle werk baie waardeer.
Baie dankie
L du Toit
Ek is baie tevrede met die aanbieding van die Rekenaarklasse by Smurfieland Kleuterskool. Dit is vir ons van ontskatbare waarde, aangesien die kinders dit in die eerste plek baie geniet en voorts word hulle intellektueel gestimuleer. Derdens word probleme maklik geïdentifiseer en gekorrigeer deur die regte oefeninge. Jeanette, jou aanbieding is puik en die kinders is lief vir jou. Wat myself aanbetref, waardeer ek jou vriendelikheid en goeie gesindheid baie. Ons is baie tevrede met Stimulus Maksima, en beskou julle as ʼn aanwins vir ons skool.
Groete
Rentia van Rensburg
Fichardtpark Preprimêre Skool
Hiermee getuig ek graag oor “Stimulus Maksima”.
“Stimulus Maksima” word op ʼn baie professionele wyse by bogenoemde skool aangebied deur Mev Jeanette de Klerk. Die kleuters sien baie uit na hulle “rekenaarklassie” wanneer dit aangebied word.
Vir Mev de Klerk is die kleuters baie belangrik en sy hanteer hulle met liefde en geduld. Alle aspekte van ʼn kleuter se ontwikkeling word geraak deur die rekenaarklasse. Kleuters met agterstande baat ook beslis by die aanbiedings. Agterstande word gou deur Mev de Klerk raakgesien en sy gee ook baie aandag daaraan. Kleuters wat ook geen agterstande het nie, baat beslis by die klassies. Sy hou ook goeie kontak met die personeel van die kleuterskool en sy is altyd baie vriendelik. Die ouers word ook baie vriendelik en professioneel deur haar behandel. Die verslae aan die einde van elke kwartaal word baie deeglik gedoen en die ouers is baie tervrede daarmee.
Ek beveel “Stimulus Maksima” ten sterkste aan vir enige kleuter. U kan met vrymoedigheid gebruik maak van Mnr en Mev de Klerk se dienste. Vir enige verdere navrae kan u my gerus kontak.
Mev Madelyn van Wyk
Skoolhoof
Hiermee net ons dank aan jou en jou span! Die kleurters geniet die rekenaarklasse baie en daar heers groot opgewondenheid by ons skool wanneer die pragtige karavaan hier aankom. Die diens wat by die skool aangebied word, getuig van ʼn baie hoë standaard. Indien daar enige onsekerheid heers aan ons kant, is jou onmiddellike optrede altyd gerusstellend. Ons is trots op die rekenaarklasse wat by ons skool aangebied word. Baie geluk met ʼn puik diens!
Mooi wense!
Nelda Nieuwenhoudt
Reading Rocket
As ek al ooit waarde vir my geld gesien het dan is dit verseker met Stimulus Maksima! Baie dankie aan jou en jou span vir die moeite en geduld met Christo en Cornél. Christo se skool rapport lyk pragtig en Cornél se kleuterskool verslag het met sulke rasse skrede verbeter dat ek dit skoon kan glo! Ek skryf dit toe aan puik onderrig en verseker Stimulus Maksima. Hulle geniet die klasse terdee en die stempeltjies op die handjie na die tyd, amper die meeste!
Nogmaals dankie.
Elsje du Preez
Ek wil net solank dankie se vir alles wat jy vir Leandie gedoen het die jaar. Sy het die klassies baie geniet en het heeltemal uit haar dop gekruip.
Baie dankie
Wysneusie Speelskool
Hiermee wil ek vir julle en Stimulus Maksima baie dankie sê dat julle die rekenaar deel van die Wysneusies se leefwêreld kom maak het met rekenaarlessies een keer per week. Dit is iets waarna hulle reikhalsend uitsien.
Die kleutertjies wat nog nie oud genoeg is nie, kyk met bewondering na die “groot” kleuters wanneer hulle van hulle weeklikse klassie in die eetkamer terugkeer en kom spog met hulle gestempelde handjies.
Juffrou leer, deur die rekenaar, ook baie van haar kleuters se ontwikkeling en konsentrasievermoë ken. Hulle ervaar vorms, kleure, getalle, ens. in ʼn heel ander milieu wat die vaslegging van hierdie begrippe soveel te meer verseker.
Die kwartaallikse verslae aan die ouers is insiggewend vir ouers en vir Juffrou, en ʼn bewys aan die ouers dat die geld wat hulle in hulle kleuters se rekenaarklassies belê oor en oor die moeite werd is.
Mag ons verbintenis met julle nog lank en vrugbaar wees!
Met vriendelike groete
Die kleuters van kleuterskool Lichstraaltjie vind die rekenaarklasse uiters genotvol. Hulle kry die geleentheid om al spelende te leer volgens hulle eie vermoë. Die klasse help met die normale ontwikkeling van die kind en met die bevordering van ʼn groot verskeidenheid vaardighede. Dit help ook om kleuters se konsentrasievermoë te verbeter. Deur noue samewerking tussen die rekenaardame en onderwyseresse word enige probleme vasgestel en spesiale aandag daaraan gegee. Ek kan hierdie klasse ten sterkste aanbeveel vir enige ouer wat dit oorweeg om sy kleuter hiervoor in te skryf!
Groete




